The impact of a buddy system on the self-care behaviours of women living with HIV/AIDS in Botswana
Abstract
Opsomming
’n Behoeftebepaling wat in 2000 van MIV-positiewe (MIV+we) persone in Botswana gedoen is, het getoon dat hierdie mense sosiale ondersteuning nodig gehad het. Gebaseer op hierdie bevindinge is ’n “buddy”-stelsel vir en deur MIV+we vroue gedurende 2002 in die land ingestel. Hierdie studie het die impak van die “buddy”-stelsel op die selfsorggedrag van 116 MIV+we vroulike vrywilligers ondersoek wat die dienste van COCEPWA (Coping Centre for People with AIDS) gedurende 2002 benut het. Die gerieflikheidsteekproef het uit 39 “buddies” bestaan wat die “buddy”-opleidingsprogram voltooi het, 39 pasiënte wat aan die 39 “buddies” toegewys is en 38 kontrolepatiënte wat in areas gewoon het waar die “buddy”-program nog nie in werking gestel is nie. Die bevindinge dui aan dat MIV+we pasiënte wat “buddies” gehad het verbeterde selfsorggedrag van April 2002 tot November 2002 getoon het, in vergelyking met die kontrolegroep. Selfsorggedrag is aangedui deur die aantal ander persone wat ingelig is omtrent die individu se MIV+we status, die nakoming van tuberkulosebehandeling, CD4-bepalings en die nakoming van antiretrovirale behandeling. Alhoewel die verskille nie altyd statisties beduidend was nie, het die pasiënte groter verbeteringe getoon in vergelyking met die kontrolegroep in alle aspekte van selfsorggedrag. Dus is dit moontlik dat die “buddy”-stelsel die pasiënte ondersteun en bemagtig het, wat hulle in staat gestel het om ’n groter mate van selfsorggedrag te bereik as die kontrolegroep.

