HIV-positive and HIV-negative consumers accept an instant soy maize porridge
Abstract
Opsomming
Die doel van hierdie studie was om verbruikers se aanvaarding, voorkeur en voorneme van verbruik van ‘n kitssojamieliepap, in vergelyking met ‘n gewone kitsmieliepap te bepaal, ten einde die suksesvolle insluiting van die kitssojamieliepap as voedselaanvulling vir HIV-proefpersone om hul voedingstatus te verbeter, in ‘n daaropvolgende voedingsintervensiestudie te ondersoek. ‘n Vyf-punt hedoniese en voedselaksie-skattingskaal is vir hierdie doel gebruik. HIV-positiewe (n=57) en negatiewe (n=47) proefpersone is op grond van beskikbaarheid en gewilligheid om deel te neem, gewerf. Langtermynaanvaarding en inskiklikheid van HIV- positiewe verbruikers (n=9) is na drie en vyf maande bepaal. Variansie-analise (ANOVA), Tukey se meervoudige vergelykingstoets en T-toetse (p≤0.05) is uitgevoer. Verbruikers het oor die algemeen die sojamieliepap betekenisvol meer aanvaarbaar gevind, dit bo die gewone kitsmieliepap verkies, en was ook van voorneme om dit meer dikwels as laasgenoemde te verbuik. Daar was geen betekenisvolle verskille tussen die HIV-positiewe en -negatiewe groep ten opsigte van aanvaarbaarheid, voorkeur en voorneme van verbruik nie. Na drie en vyf maande het die HIV-positiewe verbruikers (n=9) nie die aanvaarbaarheid van die sojamieliepap betekenisvol verskillend van die eerste evaluering gevind nie. Dit het dus die potensiaal gehad om suksesvol in die voedingsintervensiestudie ingesluit te word. Die huidige studie beklemtoon die noodsaaklikheid van sintuiglike evaluering van voedselprodukte voor die insluiting daarvan in intervensiestudies, ten einde verbruikers se aanvaarding daarvan te bepaal.

