The role of long-chain polyunsaturated fatty acids in the treatment of cancer Cachexia and tumour growth in patients with malignant diseases: A review
Abstract
Opsomming
Onlangse studies toon dat ω-3-poli-onversadigde vetsure (POVSe) oor die vermoë beskik om kankeruitkomste te moduleer. Die liggaam reageer op kanker op dieselfde wyse as wat dit op inflammasie en wondgenesing reageer. Daar kan dus verwag word dat voedingstowwe met ‘n anti-inflammatoriese uitwerking ‘n rol in die behandeling van kanker kan speel. In hierdie oorsig word daar op die rol van ω-3-POVSe in tumorigenese en kankerkageksie gefokus. Studies dui daarop dat eikosapentanoënsuur- (EPS-)aanvulling tumorgroei moontlik kan stuit en selproliferasie verlaag. Pasiënte moet minstens 2 g EPS per dag inneem om ‘n terapeutiese uitwerking te verseker. Positiewe uitkomste verbonde aan kageksie sluit minder gewigsverlies, beter eetlus, beter lewensgehalte en langer oorlewing in, hoewel daar ‘n geskil bestaan oor hierdie kliniese uitkomste. Die uitwerking van ω-3-POVSe op tumorigenese en kageksie word in die konteks van gewysigde lipied- en proteïenmetabolisme beskou. Die metabolisme wat dikwels in kankerpasiënte voorkom, lei tot ‘n verhoogde vorming van pro-inflammatoriese eikosanoïede en sitokiene. Sitokiene speel ook ‘n indirekte rol deur die produksie van aragidoonsuur-afkomstige eikosanoïede te stimuleer. Laasgenoemde ondersteun inflammasie, selproliferasie en angiogenese, en inhibeer apoptose. Die gevolgtrekking kan gemaak word dat ω-3-POVS-aanvulling ‘n manier is om kankerterapie uit te brei, tumorigenese te inhibeer en moontlik tot die verligting van kageksie by te dra.

