Die belewinge van informele versorgers van MIV/VIGS-pasiënte: ‘n salutogene perspektief
Abstract
Opsomming
Versorging van persone gediagnoseer met MIV/VIGS word toenemend die verantwoordelikheid van die pasiënte se familielede en informele versorgers (UNAIDS, 2000:5). Die intensiteit van die versorgingstaak, en die verskeidenheid stressore waaraan versorgers blootgestel word, is reeds goed nagevors en gedokumenteer (Uys, 2002:101-102; De Figueiredo & Turato, 2001:637-640; Flaskerud, Carter & Lee, 2000:128). In hierdie studie is die salutogene perspektief aangewend om die koherensiesin van ‘n groep bestaande uit agt informele versorgers te ondersoek. Hierdie perspektief dien as een van die teorieë binne die beweging van die positiewe sielkunde waar gefokus word op die oorsprong van psigologiese welstand. Die resultate van die Sense of Coherence Scale (SOC) en die ontleding van semigestruktureerde onderhoude het ‘n aantal algemene weerstandshulpbronne aan die lig gebring wat ‘n positiewe invloed gehad het op die versorgers se koherensiesin, asook hul psigologiese welstand. Hierdie resultate mag lei tot die samestelling van ‘n program wat versorgers sal help met die handhawing van hul sielkundige welstand te midde van die stressore wat met die versorgingstaak gepaardgaan.

