The experiences of first-time mothers with colic infants who seek help from medical professionals
Abstract
Opsomming
Die doel van hierdie studie was om die ervarings van eerstekeermoeders met koliekbabas te beskryf. Die navorsingsontwerp was kwalitatief, ondersoekend, beskrywend en kontekstueel van aard. Data is ingesamel deur middel van indiepte, semi-gestruktureerde, fenomenologiese onderhoude en ‘n beskrywende ontleding is gedoen. Die resultate het getoon dat die beleefde ervarings om ‘n koliekbaba te hê, nie aan die moeders se verwagtinge voldoen het nie. Voorts veroorsaak koliekbabas angs en moeders stry teen gevoelens van mislukking. In hul soeke na ‘n verklaring vir die koliek, voel hulle ontnugter met die mediese professie. Moeders het ‘n behoefte aan ‘n ondersteunende persoon uitgedruk en gereflekteer op hul verhouding met hulle eie ma’s. Moeders het ambivalent oor hul babas gevoel en hul huweliksverhoudings het gespanne geword. Laastens het moeders hulle identiteit as moeders heroorweeg. Op grond van die resultate word voorstelle vir professionele geestesgesondheidwerkers met betrekking tot ouer-kindterapie, ondersteuning aan die moeder en versterking van die huweliksverhouding, gemaak. Laastens word die belangrikheid van sielkundige intervensies in die hantering van koliek as ‘n hulpbron vir hierdie moeders beklemtoon.

